Hoe Google webkoekies gebruik
Hierdie bladsy beskryf die soorte webkoekies en ander tegnologieë wat Google gebruik. Dit verduidelik ook hoe Google en ons vennote webkoekies vir advertensies gebruik.
Webkoekies is klein stukkies teks wat na jou blaaier toe gestuur word deur ’n webwerf wat jy besoek. Hulle help daardie werf om inligting oor jou besoek te onthou, wat dit makliker kan maak om die werf weer te besoek en die werf ook nuttiger vir jou kan maak. Ander tegnologie, insluitend unieke identifiseerders wat gebruik word om ’n blaaier, program of toestel te identifiseer, pieksels en plaaslike berging, kan ook vir hierdie doeleindes gebruik word. Webkoekies en ander tegnologieë, soos op hierdie bladsy beskryf word, kan gebruik word vir die doeleindes wat hieronder beskryf word.
Raadpleeg die privaatheidsbeleid om uit te vind hoe ons jou privaatheid beskerm wanneer ons webkoekies en ander inligting gebruik.
Soorte webkoekies en ander tegnologieë wat Google gebruik
Sommige of al die webkoekies of ander tegnologie wat hieronder beskryf word, kan in jou blaaier, program of toestel geberg word. Jy kan g.co/privacytools besoek om te bestuur hoe webkoekies gebruik word, insluitend om die gebruik van sekere webkoekies te weier. Jy kan webkoekies ook in jou blaaier bestuur (hoewel blaaiers vir mobiele toestelle dalk nie hierdie sigbaarheid bied nie). Ander tegnologie wat gebruik word om programme en toestelle te identifiseer, kan in jou toestelinstellings of in ’n program se instellings bestuur word.
Funksies
Webkoekies en ander tegnologieë wat vir funksies gebruik word, maak dit vir jou moontlik om kenmerke te gebruik wat die grondslag van ’n diens vorm. Dinge wat as die grondslag van ’n diens beskou word, sluit in voorkeure, soos jou taalkeuse, inligting wat met jou sessie verband hou, soos die inhoud van ’n inkopiemandjie, en produkoptimerings wat help om daardie diens te handhaaf en te verbeter.
Sommige webkoekies en ander tegnologie word gebruik om jou voorkeure te handhaaf. Byvoorbeeld, die meeste mense wat Google-dienste gebruik, het ’n webkoekie genaamd "NID" of "ENID" in hul blaaiers, afhangend van hul webkoekiekeuses. Hierdie webkoekies word gebruik om jou voorkeure en ander inligting te onthou, soos jou voorkeurtaal, hoeveel soekresultate jy op ’n soekresultaatbladsy wil sien (byvoorbeeld 10 of 20), en of jy Google se Veiligsoek-filter aangeskakel wil hê. Elke "NID"-webkoekie verval 6 maande nadat die gebruiker dit laas gebruik het, terwyl die "ENID"-webkoekie 13 maande lank hou. Webkoekies genaamd "VISITOR_INFO1_LIVE" en "YEC" word vir soortgelyke doeleindes vir YouTube gebruik, en word ook gebruik om probleme met die diens te bespeur en op te los. Hierdie webkoekies hou onderskeidelik 6 maande en 13 maande lank.
Ander webkoekies en tegnologie word gebruik om jou ervaring in ’n spesifieke sessie te handhaaf en te verbeter. Byvoorbeeld, YouTube gebruik die "PREF"-webkoekie om inligting te berg soos jou voorkeurbladsyopstelling en terugspeelvoorkeure, soos uitdruklike outospeelkeuses, skommel van inhoud en spelergrootte. Vir YouTube Music sluit hierdie voorkeure volume, herhaalmodus en outospeel in. Hierdie webkoekie verval 8 maande nadat die gebruiker dit laas gebruik het. Die webkoekie "pm_sess" help ook om jou blaaiersessie te handhaaf en hou 30 minute lank.
Webkoekies en ander tegnologieë kan ook gebruik word om die werkverrigting van Google-dienste te verbeter. Die "CGIC"-webkoekie verbeter byvoorbeeld die lewering van soekresultate deur soeknavrae outomaties te voltooi op grond van ’n gebruiker se aanvanklike invoer. Hierdie webkoekie duur 6 maande.
Google gebruik die "CONSENT"-webkoekie, wat 2 jaar duur, om ’n gebruiker se staat met betrekking tot webkoekiekeuses te berg. Nog ’n webkoekie, "SOCS", duur 13 maande en word ook gebruik om ’n gebruiker se staat met betrekking tot hul webkoekiekeuses te berg.
Sekuriteit
Webkoekies en ander tegnologieë wat vir sekuriteit gebruik word, help om gebruikers te staaf, bedrog te voorkom, en jou te beskerm terwyl jy interaksie met ’n diens het.
Die webkoekies en ander tegnologieë wat gebruik word om gebruikers te staaf, help om te verseker dat net die werklike eienaar van ’n rekening toegang tot daardie rekening het. Webkoekies genaamd "SID" en "HSID" bevat byvoorbeeld digitaal ondertekende en geënkripteerde rekords van ’n gebruiker se Google-rekening-ID en die mees onlangse aanmeldtyd. Die kombinasie van hierdie webkoekies maak dit vir Google moontlik om baie soorte aanvalle te blokkeer, soos pogings om die inhoud te steel van vorms wat by Google-dienste ingedien word.
Sommige webkoekies en ander tegnologie word gebruik om strooipos, bedrog en misbruik te voorkom. Byvoorbeeld, die webkoekies "pm_sess", "YSC" en "AEC" verseker dat versoeke in ’n blaaisessie deur die gebruiker gedoen word, en nie deur ander werwe nie. Hierdie webkoekies verhinder kwaadwillige werwe om sonder ’n gebruiker se medewete namens die gebruiker op te tree. Die "pm_sess"-webkoekie hou 30 minute, terwyl die "AEC"-webkoekie 6 maande hou. Die "YSC"-webkoekie hou so lank as ’n gebruiker se blaaisessie.
Ontledings
Webkoekies en ander tegnologie wat vir ontleding gebruik word, help om data in te samel wat dit vir dienste moontlik maak om jou interaksie met ’n bepaalde diens te verstaan. Hierdie insigte maak dit vir dienste moonlik om inhoud te verbeter, en om beter kenmerke te bou wat jou ervaring verbeter.
Sommige webkoekies en ander tegnologie help werwe en apps om hul gebruikers se interaksie met hul dienste te verstaan. Byvoorbeeld, Google Analytics gebruik ’n stel webkoekies om inligting in te samel en oor werfgebruikstatistieke verslag te doen sonder om individuele besoekers persoonlik aan Google te identifiseer. "_ga", die hoofwebkoekie wat Google Analytics gebruik, maak dit vir ’n diens moontlik om besoekers van mekaar te onderskei en hou 2 jaar lank. Enige werf wat Google Analytics toepas, insluitend Google-dienste, gebruik die "_ga"-webkoekie. Elke "_ga"-webkoekie is uniek aan die spesifieke eiendom, en daarom kan dit nie gebruik word om ’n bepaalde gebruiker of blaaier deur onverwante webwerwe na te spoor nie.
Google-dienste gebruik ook die webkoekies "NID" en "ENID" op Google Search en die webkoekies "VISITOR_INFO1_LIVE" en "YEC" op YouTube vir ontleding.
Advertering
Google gebruik webkoekies vir reklame, insluitend die bedien en lewering van advertensies, personalisering van advertensies (na gelang van jou advertensie-instellings by myadcenter.google.com en adssettings.google.com/partnerads), beperking op die aantal kere wat ’n advertensie aan ’n gebruiker gewys word, die demp van advertensies wat jy gekies het om nie meer te sien nie, en meting van die doeltreffendheid van advertensies.
Die "NID"-webkoekie word gebruik om Google-advertensies in Google-dienste vir afgemelde gebruikers te wys, terwyl die "ANID"- en "IDE"-webkoekie gebruik word om Google-advertensies op nie-Google-werwe te wys. As jy gepersonaliseerde advertensies geaktiveer het, word die "ANID"-webkoekie gebruik om hierdie instelling te onthou. Dit duur 13 maande in die Europese Ekonomiese Gebied (EEG), Switserland en die Verenigde Koninkryk (VK), en 24 maande elders. As jy gepersonaliseerde advertensies afgeskakel het, word die "ANID"-webkoekie gebruik om daardie instelling tot 2030 te berg. Die "NID"-webkoekie verval 6 maande nadat ’n gebruiker dit laas gebruik het. Die "IDE"-webkoekie duur 13 maande in die Europese Ekonomiese Gebied (EEG), Switserland en die Verenigde Koninkryk (VK), en 24 maande elders.
Ander Google-dienste, soos YouTube, kan, afhangend van jou advertensie-instellings, ook hierdie en ander webkoekies en tegnologieë, soos die "VISITOR_INFO1_LIVE"-webkoekie, vir reklame gebruik.
Sommige webkoekies en ander tegnologieë wat vir reklame gebruik word, is vir gebruikers wat aanmeld om Google-dienste te gebruik. Die "DSID"-webkoekie word byvoorbeeld gebruik om ’n aangemelde gebruiker op nie-Google-werwe te identifiseer en om te onthou of die gebruiker ingestem het tot advertensiepersonalisering. Dit duur 2 weke.
Besighede kan deur Google se reklameplatform in Google-dienste, asook op nie-Google-werwe adverteer. Sommige webkoekies ondersteun Google om advertensies op derdepartywerwe te wys, en word gestel in die domein van die webwerf wat jy besoek. Die "_gads"-webkoekie maak dit byvoorbeeld vir werwe moontlik om Google-advertensies te wys. Webkoekies wat met "_gac_" begin, kom van Google Analytics af en word deur adverteerders gebruik om gebruikeraktiwiteit en die prestasie van hul advertensieveldtogte te meet. Die "_gads"-webkoekies duur 13 maande en die "_gac_"-webkoekies duur 90 dae.
Sommige webkoekies en ander tegnologieë word gebruik om advertensie- en veldtogprestasie en omskakelingkoerse vir Google-advertensies te meet op ’n werf wat jy besoek. Webkoekies wat met "_gcl_" begin, word byvoorbeeld hoofsaaklik gebruik om adverteerders te help bepaal hoeveel keer gebruikers wat hul advertensies klik uiteindelik ’n handeling op hul werf uitvoer, soos om ’n aankoop te doen. Webkoekies wat gebruik word om omskakelingkoerse te meet, word nie gebruik om advertensies te personaliseer nie. "_gcl_"-webkoekies duur 90 dae.
Sien hier meer inligting oor webkoekies wat vir reklame gebruik word.
Personalisering
Webkoekies en ander tegnologieë wat vir personalisering gebruik word, verbeter jou ervaring deur gepersonaliseerde inhoud en kenmerke te verskaf, afhangend van jou instellings by g.co/privacytools of in jou program- en toestelinstellings.
Gepersonaliseerde inhoud en kenmerke sluit dinge in soos relevanter resultate en aanbevelings, ’n gepasmaakte YouTube-tuisblad, en advertensies wat volgens jou belangstellings gepasmaak is. Die "VISITOR_INFO1_LIVE"-webkoekie kan byvoorbeeld gepersonaliseerde aanbevelings op YouTube op grond van vorige kyke en soektogte moontlik maak. En die "NID"-webkoekie maak gepersonaliseerde outovoltooikenmerke in Search moontlik terwyl jy soekterme intik. Hierdie webkoekies verval 6 maande ná ’n gebruiker se laaste gebruik daarvan. Nog ’n personaliseringwebkoekie, "UULE", stuur presiese ligginginligting van jou blaaier af na Google se bedieners toe sodat Google vir jou resultate kan wys wat op jou ligging betrekking het. Die gebruik van hierdie webkoekie hang af van jou blaaierinstellings en van of jy gekies het om ligging vir jou blaaier aan te skakel. Die "UULE"-webkoekie duur 6 uur.
Niegepersonaliseerde inhoud en kenmerke verskil van gepersonaliseerde inhoud en kenmerke deurdat hulle deur dinge soos die inhoud wat jy tans bekyk, jou huidige Google-soektog en jou algemene ligging beïnvloed word.
Die bestuur van webkoekies in jou blaaier
Die meeste blaaiers maak dit vir jou moontlik om te beheer hoe webkoekies gestel en gebruik word terwyl jy blaai, en om webkoekies en blaaierdata uit te vee. Jou blaaier kan ook instellings hê waarmee jy webkoekies vir elke werf individueel kan beheer. Google Chrome se instellings by chrome://settings/cookies maak dit byvoorbeeld vir jou moontlik om bestaande webkoekies uit te vee, alle webkoekies toe te laat of te blokkeer, en om webkoekievoorkeure vir webwerwe te stel. Google Chrome bied ook Incognitomodus, wat jou blaaigeskiedenis en webkoekies op jou toestel uitvee nadat jy jou Incognito-vensters toegemaak het.
Bestuur ander tegnologie in jou programme en toestelle
Die meeste mobiele toestelle en programme maak dit vir jou moontlik om te bestuur hoe ander tegnologieë, soos unieke identifiseerders wat gebruik word om ’n blaaier, program of toestel te identifiseer, gestel en gebruik word. Die reklame-ID op Android-toestelle of Apple se Advertising Identifier kan byvoorbeeld in jou toestel se instellings bestuur word, terwyl programspesifieke identifiseerders gewoonlik in die program se instellings bestuur kan word.