Hoe Google patroonherkenning gebruik

So gebruik Google patroonherkenning om beelde te verstaan

Rekenaars "sien" nie foto's en video's op dieselfde manier as mense nie. Wanneer jy na 'n foto kyk, sien jy dalk jou beste vriendin wat voor haar huis staan. Uit 'n rekenaar se perspektief is daardie beeld net 'n klomp data wat geïnterpreteer kan word as vorms en inligting oor kleurwaardes. Die rekenaar sal nie soos jy reageer wanneer jy daardie foto sien nie, maar 'n rekenaar kan geleer word om sekere patrone van kleur en vorms te herken. Byvoorbeeld, 'n rekenaar kan opgelei word om die algemene patrone van vorms en kleure te herken waaruit 'n digitale prent van 'n landskap, soos 'n strand, of 'n voorwerp, soos 'n motor, bestaan. Hierdie tegnologie help Google Foto's om jou foto's te organiseer en maak dit vir gebruikers moontlik om enige foto met 'n eenvoudige soektog te kry.

'n Rekenaar kan ook opgelei word om die algemene patrone van vorms en kleure te herken waaruit 'n digitale prent van 'n gesig bestaan. Hierdie proses staan bekend as gesigbespeuring en dit is die tegnologie wat Google help om jou privaatheid te beskerm op dienste soos Straataansig, waar rekenaars probeer om die gesigte van mense wat dalk langs die pad gestaan het toe die Straataansig-motor verbygery het, te bespeur en dan wasig te maak.

Op 'n meer gevorderde vlak kan dieselfde patroonherkenningtegnologie wat gesigbespeuring moontlik maak, 'n rekenaar help om die kenmerke te verstaan van die gesig wat dit bespeur het. Byvoorbeeld, daar kan sekere patrone wees wat aandui dat 'n gesig glimlag of dat die oë toe is. Sulke inligting kan gebruik word om te help met kenmerke soos Google Foto's se voorstelle van flieks en ander effekte wat met jou foto's en video's geskep word.

Soortgelyke tegnologie maak ook die gesiggroeperingkenmerk moontlik wat in sekere lande in Google Foto's beskikbaar is en wat rekenaars help om soortgelyke gesigte te bespeur en hulle saam te groepeer, wat dit vir gebruikers makliker maak om hul foto's te soek en te bestuur. Lees meer oor gesiggroepering in Google Foto's se hulpsentrum.

So werk Stemsoektog

Met Stemsoektog kan jy 'n stemnavraag in 'n Google Search-kliëntprogram op 'n toestel doen, pleks van om daardie navraag in te tik. Dit gebruik patroonherkenning om gesproke woorde as geskrewe teks te transkribeer. Ons stuur die uitings na Google-bedieners toe om te herken wat jy gesê het.

Vir elke stemnavraag wat in Stemsoektog gedoen word, berg ons die taal, die land en ons stelsel se raaiskoot van wat gesê is. Ons hou uitings om ons dienste te verbeter, insluitend om die stelsel op te lei om die korrekte soeknavraag beter te herken as jy jou toestemming gegee het om data daarvoor te gebruik. Ons stuur geen uitinge na Google toe nie, tensy jy aangedui het dat jy die Stemsoektog-funksie wil gebruik (byvoorbeeld, druk die mikrofoonikoon op die kitssoekbalk of op die virtuele sleutelbord of sê “Google” wanneer die kitssoekbalk aandui dat die Stemsoektog-funksie beskikbaar is).

Google-programme
Hoofkieslys