Advertering

Advertensies hou Google en baie van die webwerwe en dienste wat jy gebruik, gratis. Ons werk hard om seker te maak dat advertensies veilig, onopvallend en so relevant moontlik is. Jy sal byvoorbeeld nie opspring-advertensies op Google sien nie en ons beëindig elke jaar die rekeninge van honderde duisende publiseerders en adverteerders wat ons beleide oortree – insluitend advertensies met wanware, advertensies vir nagemaakte goedere of advertensies wat probeer om jou persoonlike inligting te misbruik.

Google-reklamedienste eksperimenteer met nuwe maniere om die lewering en meting van digitale reklame te ondersteun op maniere wat mense se privaatheid beter aanlyn beskerm deur die Privacy Sandbox-inisiatief op Chrome en Android. Gebruikers wat die toepaslike Privacy Sandbox-instellings in Chrome of Android geaktiveer het, kan toepaslike advertensies van Google se reklamedienste sien op grond van Onderwerpe- of Beskermde gehoor-data wat op hul blaaier of mobiele toestel geberg is. Google se reklamedienste kan ook Erkenningverslagdoening-data wat op gebruikers se blaaiers of mobiele toestelle gerberg is, gebruik om advertensiewerkverrigting te meet. Meer inligting oor die Privacy Sandbox.

Hoe Google webkoekies in advertering gebruik

Webkoekies help om advertering meer effektief te maak. Sonder webkoekies is dit moeiliker vir 'n adverteerder om sy gehoor te bereik of om te weet hoeveel advertensies gewys is en hoeveel klikke hulle ontvang het.

Baie webwerwe, soos nuuswerwe en blogs, tree in 'n vennootskap met Google om advertensies vir hul besoekers te wys. Saam met ons vennote kan ons webkoekies gebruik vir verskeie doeleindes, soos om te keer dat jy dieselfde advertensie oor en oor sien, om klikbedrog te bespeur en te stop en advertensies te wys wat waarskynlik relevanter sal wees (soos advertensies gebaseer op webwerwe wat jy besoek het).

Ons bêre 'n rekord van die advertensies wat ons bedien in ons loglêers. Hierdie bedienerloglêers sluit gewoonlik jou webversoek, IP-adres, blaaiertipe en -taal, die datum en tyd van jou versoek en een of meer webkoekies in wat jou blaaier uniek kan identifiseer. Ons bêre hierdie data vir 'n aantal redes. Die belangrikste rede is om ons dienste te verbeter en die sekuriteit van ons stelsels te handhaaf. Ons maak hierdie loglêerdata anoniem deur 'n deel van die IP-adres (ná 9 maande) en die webkoekie-inligting (ná 18 maande) te verwyder.

Ons adverteringswebkoekies

Ons bied baie produkte aan, insluitend AdSense, AdWords, Google Analytics en 'n reeks dienste met die DoubleClick-handelsmerk, om ons vennote te help om hul advertensies en webwerwe te bestuur. Wanneer jy 'n bladsy besoek of 'n advertensie sien wat een van hierdie produkte gebruik, hetsy op Google-dienste of op ander webwerwe en apps, kan verskeie webkoekies na jou blaaier gestuur word.

Dit kan van 'n paar verskillende domeine af gestel word, insluitend google.com, doubleclick.net, googlesyndication.com en googleadservices.com, of die domein van ons vennote se werwe. Sommige van ons advertensieprodukte stel ons vennote in staat om ander dienste (soos 'n advertensiemeting-en-verslagdiens) saam met ons s'n te gebruik, en hierdie dienste kan hul eie webkoekies na jou blaaier toe stuur. Hierdie webkoekies sal van hul domeine af gestel word.

Sien meer besonderhede oor die tipes webkoekies wat Google en ons vennote gebruik en hoe ons dit gebruik.

Hoe jy adverteringswebkoekies kan beheer

Jy kan advertensie-instellings gebruik om die Google-advertensies wat jy sien te bestuur en gepersonaliseerde advertensies af te skakel. Selfs al skakel jy gepersonaliseerde advertensies af, kan jy steeds advertensies sien gegrond op faktore soos jou algemene ligging wat uit jou IP-adres afgelei word, jou blaaiersoort en jou soekterme.

Jy kan ook baie maatskappye se webkoekies wat vir aanlyn advertensies gebruik word, bestuur met die verbruikerkeusenutsgoed wat in baie lande ingevolge selfreguleringprogramme geskep is, soos die aboutads.info choices-bladsy in die VSA en Your Online Choices in die EU.

Ten slotte kan jy webkoekies in jou webblaaier bestuur.

Ander tegnologieë wat gebruik word in advertering

Google se adverteringstelsels kan dalk ander tegnologieë gebruik, insluitend Flash en HTML5, vir funksies soos die wys van interaktiewe advertensieformate. Ons kan byvoorbeeld dalk die IP-adres gebruik om jou algemene ligging te identifiseer. Ons kan dalk ook advertering kies op grond van inligting omtrent jou rekenaar of toestel, soos jou toestelmodel, blaaiertipe of sensors in jou toestel, soos die versnellingmeter.

Ligging

Google se advertensieprodukte kan inligting oor jou ligging uit 'n verskeidenheid bronne ontvang of aflei. Ons kan byvoorbeeld die IP-adres gebruik om jou algemene ligging te identifiseer; ons sal dalk 'n presiese ligging van jou mobiele toestel af ontvang; ons sal dalk jou ligging uit jou soeknavrae aflei; en webwerwe of programme wat jy gebruik, sal dalk vir ons inligting oor jou ligging stuur. Google gebruik ligginginligting in ons advertensieprodukte om demografiese inligting af te lei, om die advertensies wat jy sien relevanter te maak, om advertensievertoning te meet, en om saamgestelde statistieke aan adverteerders oor te dra.

Advertensie-identifiseerders vir mobiele programme

Om advertensies te lewer in dienste waar webkoekietegnologie dalk nie beskikbaar is nie (byvoorbeeld in mobiele programme), kan ons tegnologieë gebruik wat soortgelyke funksies as webkoekies verrig. Soms verbind Google die identifiseerder wat vir advertensies in mobiele programme gebruik word, aan 'n reklamewebkoekie op dieselfde toestel om advertensies oral in jou mobiele programme en mobiele blaaier te koördineer. Dit kan byvoorbeeld gebeur wanneer jy 'n advertensie in 'n program sien wat 'n webbladsy in jou mobiele blaaier oopmaak. Dit help ons ook om die verslae te verbeter wat ons aan ons adverteerders oor die doeltreffendheid van hul veldtogte gee.

Advertensies wat jy op jou toestel sien, kan op grond van die reklame-ID gepersonaliseer wees. Jy kan die volgende op Android-toestelle doen:

  • Jou toestel se reklame-ID terugstel, wat die huidige ID met ’n nuwe een vervang. Programme kan steeds vir jou gepersonaliseerde advertensies wys, maar hulle kan ’n ruk lank dalk nie so relevant of interessant wees vir jou nie.
  • Jou toestel se reklame-ID uitvee, wat die reklame-ID uitvee en nie ’n nuwe een toewys nie. Programme kan steeds vir jou advertensies wys, maar hulle kan dalk nie so relevant of interessant wees vir jou nie. Jy sal nie advertensies op grond van hierdie reklame-ID sien nie, maar jy sal dalk steeds advertensies op grond van ander faktore sien, soos die inligting wat jy met programme gedeel het.

Volg die instruksies hieronder om veranderinge aan die reklame-ID op jou Android-toestel te maak.

Android

Stel jou toestel se reklame-ID terug

Stel jou toestel se reklame-ID só terug:

  1. Gaan na Instellings op jou Android-toestel.
  2. Tik op Privaatheid > Advertensies.
  3. Tik op Stel reklame-ID terug en bevestig veranderinge.
Vee jou toestel se reklame-ID uit

Vee jou toestel se reklame-ID só uit:

  1. Gaan na Instellings op jou Android-toestel.
  2. Tik op Privaatheid > Advertensies.
  3. Tik op Vee reklame-ID uit en bevestig veranderinge.

Jou reklame-ID sal teruggestel of uitgevee word, maar programme het dalk hul eie instellings wat ander soort identifiseerders gebruik – hulle kan ook beïnvloed watter soort advertensies jy sien.

Op sommige ouer weergawes van Android

As jou Android-toestel weergawe 4.4 of ouer gebruik:

  1. Maak Instellings oop
  2. Tik op Privaatheid > Gevorderd > Advertensies
  3. Skakel Onttrek aan Advertensiepersonalisering aan en bevestig jou veranderinge.

iOS

Toestelle met iOS gebruik Apple se advertensie-identifiseerder. Besoek die Settings-program op jou toestel om meer te wete te kom oor jou keuses vir die gebruik van hierdie identifiseerder.

Gekoppelde TV/Regstreekse internetverspreiding

Reklame-identifiseerders vir gekoppelde TV

Gekoppelde TV's is nog ’n area waar webkoekietegnologie nie beskikbaar is nie. Google sal pleks daarvan staatmaak op toestel-identifiseerders wat ontwerp is vir gebruik in reklame wanneer hulle advertensies bedien. Baie gekoppelde TV-toestelle gebruik ’n identifiseerder vir reklame wat soortgelyke funksies het as die identifiseerders vir mobiele toestelle. Hierdie identifiseerders is gebou om vir gebruikers die opsie te gee om hulle terug te stel of om heeltemal aan gepersonaliseerde reklame te onttrek.

Die volgende “Advertensie”-instellings is beskikbaar op TV's, met die taal wat konsekwent bly:

  • Stel reklame-ID terug
  • Vee reklame-ID uit
  • Onttrek aan Advertensiepersonalisering (aan of af)
  • Advertensies deur Google (skakels na Meer Oor Google-advertensiepersonalisering)
  • Jou reklame-ID (lang string)

Hierdie advertensie-instellings is in die volgende paaie op Google TV en Android TV onderskeidelik beskikbaar.

Google TV

Konsekwente pad na advertensies:

  1. Instellings
  2. Privaatheid
  3. Advertensies

Android TV

Advertensie-instellings verskyn in een van twee algemene paaie vir Android TV, afhangend van die TV-vervaardiger/-model. Vennote het in Android TV die keuse om die Instellings-pad aan te pas as hulle wil. Die vennoot kan self besluit watter pad hulle gebruik om die beste by hul gepasmaakte TV-ervaring te pas. Hieronder is egter die algemene paaie na advertensie-instellings.

Pad A:

  1. Instellings
  2. Meer oor
  3. Regsinligting
  4. Advertensies

Pad B:

  1. Instellings
  2. Toestelvoorkeure
  3. Meer oor
  4. Regsinligting
  5. Advertensies
Nie-Google-toestelle

Baie gekoppelde TV-toestelle steun identifiseerders vir reklame en bied maniere waarop gebruikers aan gepersonaliseerde reklame kan onttrek. ’n Volledige lys van daardie toestelle en maniere waarop gebruikers kan onttrek, word bygewerk gehou op die Netwerkreklame-inisiatief se webwerf hier: https://thenai.org/opt-out/connected-tv-choices/.

Wat bepaal die advertensies deur Google wat ek sien?

Baie besluite word geneem om te bepaal watter advertensies jy sien.

Soms is die advertensie wat jy sien, op jou huidige of voormalige ligging gebaseer. Jou IP-adres is gewoonlik 'n goeie aanduiding van jou benaderde ligging. Daarom sal jy dalk 'n advertensie op die tuisblad van YouTube.com sien wat 'n fliek adverteerder wat binnekort in jou land wys, of 'n soektog na “pizza” sal dalk resultate vir pizzaplekke in jou dorp oplewer.

Soms is die advertensie wat jy sien, op die konteks van 'n bladsy gegrond. As jy na 'n bladsy met tuinmaakwenke kyk, kan jy dalk advertensies vir tuinmaaktoerusting sien.

Jy sal dalk soms ook 'n advertensie op die web sien wat op jou programaktiwiteit of aktiwiteit op Google-dienste gegrond is; 'n inprogram-advertensie wat op webaktiwiteit gegrond is; of 'n advertensie wat op jou aktiwiteit op 'n ander toestel gegrond is.

Soms lewer Google die advertensies wat jy op 'n bladsy sien, maar word hulle deur 'n ander maatskappy gekies. Byvoorbeeld, jy het dalk op 'n koerantwebwerf geregistreer. Op grond van inligting wat jy aan die koerant gegee het, kan dit besluite neem oor watter advertensies om vir jou te wys, en dit kan Google se advertensieverskaffingsprodukte gebruik om daardie advertensies te lewer.

Jy sal dalk ook advertensies op Google-produkte en -dienste, insluitend Search, Gmail en YouTube, sien wat gegrond is op inligting soos jou e-posadres wat jy aan adverteerders verskaf het en wat die adverteerders dan met Google gedeel het.

Hoekom sien ek advertensies deur Google van produkte wat ek bekyk het?

Jy kan dalk advertensies sien vir produkte wat jy vroeër bekyk het. Kom ons veronderstel jy besoek 'n webwerf wat gholfstokke verkoop, maar jy koop nie daardie stokke op jou eerste besoek nie. Die webwerfeienaar kan jou dalk wil aanmoedig om terug te keer en jou aankoop te voltooi. Google bied dienste wat webwerfoperateurs toelaat om hul advertensies te mik op mense wat hul bladsye besoek het.

Om dit te laat werk, lees Google 'n webkoekie wat reeds in jou blaaier is, of plaas 'n webkoekie in jou blaaier wanneer jy die gholfwebwerf besoek (as aanvaar word dat jou blaaier toelaat dat dit gebeur).

Wanneer jy 'n ander webwerf besoek wat met Google saamwerk, wat dalk niks met gholf te doen het nie, kan jy dalk 'n advertensie vir daardie gholfstokke sien. Dit is omdat jou blaaier dieselfde webkoekie vir Google stuur. Ons kan daardie webkoekie weer gebruik om vir jou 'n advertensie te wys wat jou kan aanmoedig om daardie gholfstokke te koop.

Google kan jou besoek aan die gholfwebwerf ook gebruik om vir jou gepersonaliseerde advertensies te wys wanneer jy later op Google na gholfstokke soek.

Ons het beperkings op hierdie soort advertensies. Ons verbied adverteerders byvoorbeeld om op grond van sensitiewe inligting, soos gesondheidinligting of godsdienstige oortuigings, 'n gehoor te kies.

Kom meer te wete oor Google-advertensies.

Google-programme
Hoofkieslys