Tipes webkoekies wat deur Google gebruik word

Ons gebruik verskillende tipes webkoekies om Google-webwerwe en advertensieverwante produkte te laat loop. Party van of al die webkoekies hieronder genoem kan in jou blaaier gestoor word. Jy kan webkoekies bekyk of in jou blaaier bestuur (alhoewel blaaiers vir mobiele toestelle dalk nie hierdie sigbaarheid sal bied nie).

Kategorie van gebruikVoorbeeld

Voorkeure

Hierdie webkoekies stel ons webwerwe in staat om inligting te onthou wat die werf anders laat optree of lyk, soos jou voorkeurtaal of die streek waarin jy is. Deur byvoorbeeld jou streek te onthou, kan 'n webwerf jou voorsien van plaaslike weerverslae of verkeersnuus. Hierdie webkoekies kan jou ook help om teksgrootte, lettertipe en ander dele van webbladsye wat jy kan personaliseer, te verander.

Die verlies van die inligting wat in 'n voorkeure-webkoekie gestoor is, kan die webwerf-ervaring minder funksioneel maak, maar dit behoort nog steeds te kan werk.

Die meeste Google-gebruikers sal 'n voorkeure-webkoekie genaamd "NID" in hul blaaiers hê. 'n Blaaier stuur hierdie webkoekie met versoeke na Google se werwe. Die NID-webkoekie bevat 'n unieke ID wat Google gebruik om jou voorkeure en ander inligting te onthou, soos jou voorkeurtaal (bv. Engels), hoeveel soekresultate jy per bladsy wil sien (bv. 10 of 20) en of jy Google se SafeSearch-filter aangeskakel wil hê of nie.

Sekuriteit

Ons gebruik sekuriteitswebkoekies om gebruikers te magtig, bedrieglike gebruik van aanmelddata te voorkom en gebruikerdata te beskerm teen ongemagtigde partye.

Ons gebruik byvoorbeeld webkoekies genaamd "SID" en "HSID" wat digitaal-getekende en -geënkripteerde rekords van 'n gebruiker se Google-rekening-ID en die mees onlangse aanmeldtyd bevat. Die kombinasie van hierdie twee webkoekies laat ons baie verskillende tipes aanvalle blokkeer, soos pogings om die inhoud te steel van vorms wat jy op webbladsye voltooi.

Prosesse

Proseswebkoekies help om die webwerf te laat werk en dienste te lewer wat die webwerfbesoeker verwag, soos om deur webblaaie te navigeer of toegang te kry tot veilige areas van die webwerf. Sonder hierdie webkoekies kan die webwerf nie behoorlik funksioneer nie.

Ons gebruik byvoorbeeld 'n webkoekie genaamd "lbcs" wat dit vir Google Docs moontlik maak om baie dokumente in een blaaier oop te maak. Die blokkering van hierdie webkoekie sal Google Docs verhoed om korrek te funksioneer.

Advertering

Ons gebruik webkoekies om advertering aantrekliker te maak vir gebruikers en meer waardevol vir publiseerders en adverteerders. Sommige algemene toepassings van webkoekies is om advertering te kies gebaseer op wat relevant is vir 'n gebruiker, om verslaggewing van veldtogwerkverrigting te verbeter, en om te verhoed dat advertensies gewys word wat die gebruiker reeds gesien het.

Google gebruik webkoekies soos NID en SID om advertensies op Google-eiendomme, soos Google Search, te help pasmaak. Ons gebruik byvoorbeeld sulke webkoekies om jou mees onlangse soektogte, jou vorige interaksie met 'n adverteerder se advertensies of soekresultate, en jou besoeke aan 'n adverteerder se webwerf te onthou. Dit help ons om vir jou gepasmaakte advertensies op Google te wys.

Ons gebruik ook een of meer webkoekies vir advertensies wat ons op die web bedien. Een van die belangrikste advertensiewebkoekies op nie-Google-werwe word “IDE” genoem en word onder die domein doubleclick.net in blaaiers geberg. Nog een word in google.com geberg en word ANID genoem. Ons gebruik ook ander webkoekies, met name soos DSID, FLC, AID, TAID en exchange_uid. Ander Google-eiendomme, soos YouTube, kan ook hierdie webkoekies gebruik om vir jou relevanter advertensies te wys.

Soms kan advertensiewebkoekies gestel word in die domein van die werf wat jy besoek. In die geval van advertensies wat ons op die web bedien, kan webkoekies (bv. webkoekies genaamd “__gads” of “__gac”) gestel word in die domein van die werf wat jy besoek. Anders as webkoekies wat in Google se eie domeine gestel word, kan Google nie hierdie webkoekies lees wanneer jy op 'n ander werf is as die een waarop hulle gestel is nie. Die doel is om interaksies met die advertensies in daardie domein te meet en te keer dat dieselfde advertensies te veel kere vir jou gewys word.

Google gebruik ook omskakelingwebkoekies (bv. webkoekies genaamd "__gcl"), waarvan die hoofdoel is om adverteerders te help bepaal hoeveel keer mense wat op hul advertensies klik uiteindelik tot handeling op hul werf oorgaan (bv. 'n aankoop doen). Hierdie webkoekies stel Google en die adverteerder in staat om te bepaal dat jy die advertensie geklik het en later die adverteerder se webwerf besoek het. Omskakelingwebkoekies word nie deur Google vir gepersonaliseerde advertensieteikenstelling gebruik nie en hou slegs vir 'n beperkte tyd. Sommige van ons ander webkoekies kan ook gebruik word om omskakelinggevalle te meet. Byvoorbeeld, Google-bemarkingsplatform- en Google Analytics-webkoekies kan ook vir hierdie doel gebruik word.

Ons gebruik ook webkoekies genaamd “AID”, “DSID” en “TAID”, wat gebruik word om jou aktiwiteit op verskillende toestelle te verbind as jy vroeër op 'n ander toestel by jou Google-rekening aangemeld het. Ons doen dit om die advertensies wat jy op verskillende toestelle sien, te koördineer en omskakeling te meet. Hierdie webkoekies kan gestel word in die domeine google.com/ads, google.com/ads/measurement of googleadservices.com. As jy nie wil hê dat die advertensies wat jy sien tussen jou toestelle gekoördineer word nie, kan jy met Advertensie-instellings intekening op advertensiepersonalisering weier.

Sessiestatus

Webwerwe samel dikwels inligting in oor hoe gebruikers met 'n webwerf omgaan. Dit kan bladsye insluit wat gebruikers die meeste besoek en of gebruikers foutboodskappe van sekere bladsye kry. Ons gebruik hierdie sogenaamde "sessiestatus-webkoekies" om ons te help om ons dienste te verbeter ten einde ons gebruikers se blaai-ervaring te verbeter. Om hierdie webkoekies te blokkeer of uit te vee, sal nie die webwerf onbruikbaar maak nie.

Hierdie webkoekies kan ook gebruik word om die effektiwiteit van PPC (betaal-per-klik) en geaffilieerde advertering anoniem te meet.

Ons gebruik byvoorbeeld 'n webkoekie met die naam "recently_watched_video_id_list" sodat YouTube 'n bepaalde blaaier se mees onlangs gekykte video's kan aanteken.

Analytics

Google Analytics is Google se ontledingsnutsding wat eienaars van webwerwe en programme help om besoekers se interaksie met hul eiendomme te verstaan. Dit kan 'n stel webkoekies gebruik om inligting in te samel en verslag te doen oor werfgebruikstatistieke sonder om individuele besoekers persoonlik aan Google te identifiseer. Die belangrikste webkoekie wat deur Google Analytics gebruik word, is die "_ga"-webkoekie.

Behalwe vir verslagdoening oor webwerfgebruikstatistieke kan data wat deur Google Analytics op Google-eiendomme ingesamel is ook saam met sommige van die advertensiewebkoekies wat hierbo beskryf is, gebruik word om te help om meer relevante advertensies op Google-eiendomme (soos Google Search) en oral in die web te wys, en om interaksies te meet met die advertensies wat ons wys.

Kom meer te wete oor Analytics-webkoekies en privaatheidinligting.

Ons gebruik verskeie domeine om webkoekies te stel wat in ons reklameproldukte gebruik word, insluitend die volgende domeine en sommige landspesifieke weergawes van hierdie domeine (soos google.fr):

  • admob.com
  • adsensecustomsearchads.com
  • adwords.com
  • doubleclick.net
  • google.com
  • googleadservices.com
  • googleapis.com
  • googlesyndication.com
  • googletagmanager.com
  • googletagservices.com
  • googletraveladservices.com
  • googleusercontent.com
  • google-analytics.com
  • gstatic.com
  • urchin.com
  • youtube.com
  • ytimg.com