Só hanteer Google regeringsversoeke vir gebruikerinligting

Regeringsagentskappe wêreldwyd vra Google om gebruikerinligting openbaar te maak. Ons gaan elke versoek versigtig na om seker te maak dat dit aan toepaslike wette voldoen. As 'n versoek vir te veel inligting vra, probeer ons om dit te beperk. In sommige gevalle teken ons daarteen beswaar aan om enige inligting te verskaf. Ons deel die aantal en soort versoeke wat ons ontvang in ons deursigtigheidverslag.

Die manier waarop ons op 'n versoek reageer, hang van jou Google-diensverskaffer af – vir die meeste van ons dienste is dit óf Google LLC, 'n Amerikaanse maatskappy wat ingevolge die wette van die VSA bedryf word, óf Google Ireland Limited, 'n Ierse maatskappy wat ingevolge die wette van Ierland bedryf word. Om uit te vind wie jou diensverskaffer is, kan jy Google se diensbepalings nagaan of by jou rekeningadministrateur uitvind of jou Google-rekening deur 'n organisasie bestuur word.

Wanneer ons 'n versoek van 'n regeringsagentskap af ontvang, stuur ons 'n e-pos na die gebruikerrekening voordat ons inligting openbaar maak. As die rekening deur 'n organisasie bestuur word, sal ons die rekeningadministrateur in kennis stel.

Ons sal nie 'n kennisgewing stuur as ons ingevolge die bepalings van die versoek wetlik verbied word om dit te doen nie. Ons sal 'n kennisgewing stuur nadat die regsverbod opgehef is, soos wanneer 'n muilbandtydperk wat volgens wet of deur 'n hofbevel vereis is, verstryk het.

Ons sal dalk nie 'n kennisgewing stuur as die rekening gedeaktiveer of gekaap is nie. En ons sal dalk nie 'n kennisgewing stuur in die geval van noodgevalle nie, soos wanneer 'n kind se veiligheid of iemand se lewe bedreig word, in welke geval ons 'n kennisgewing sal stuur as ons uitvind dat die noodgeval verby is.

Versoeke vanaf die Amerikaanse regering in siviele, administratiewe en strafsake

Die Vierde Amendement tot die Amerikaanse Grondwet en die Wet op Elektroniesekommunikasie-privaatheid (Electronic Communications Privacy Act (ECPA)) beperk die regering se vermoë om 'n verskaffer te dwing om gebruikerinligting openbaar te maak. Amerikaanse owerhede moet minstens die volgende doen:

  • In alle gevalle: 'n Dagvaarding uitreik om die openbaarmaking van basiese intekenaarregistrasie-inligting en sekere IP-adresse af te dwing
  • In strafsake
    • 'n Hofbevel kry om die openbaarmaking van nie-inhoud-rekords, soos die Aan-, Van-, CC-, BCC- en Tydstempel-velde in e-posse, af te dwing
    • 'n Deursoeklasbrief kry om die openbaarmaking van kommunikasie-inhoud, soos e-posboodskappe, dokumente en foto's, af te dwing

Versoeke vanaf die Amerikaanse regering in gevalle wat nasionale veiligheid behels

In ondersoeke wat met nasionale veiligheid verband hou, kan die Amerikaanse regering 'n Nasionale Sekuriteitsbrief (NSL) of een van die magtigings wat ingevolge die Wet op Monitering van Buitelandse Intelligensie (Foreign Intelligence Surveillance Act (FISA)) verleen word, gebruik om Google te dwing om gebruikerinligting te verskaf.

  • 'n NSL vereis nie regsmagtiging nie en kan net gebruik word om ons te dwing om beperkte intekenaarinligting te verskaf.
  • FISA-bevele en -magtigings kan gebruik word om elektroniese monitering en die openbaarmaking van gebergde data af te dwing, insluitend inhoud vanaf dienste soos Gmail, Drive en Foto's.

Versoeke vanaf regeringsowerhede buite die VSA

Google LLC ontvang soms versoeke vir dataopenbaarmaking vanaf regeringsowerhede buite die VSA. Wanneer ons een van hierdie versoeke ontvang, kan ons gebruikerinligting verskaf indien die handeling in ooreenstemming is met die volgende:

  • Amerikaanse wette, wat beteken dat toegang en openbaarmaking toegelaat word ingevolge toepaslike Amerikaanse wette, soos die Wet op Elektroniesekommunikasie-privaatheid (Electronic Communications Privacy Act (ECPA))
  • Wette van die land wat die versoek rig, wat beteken dat ons die gesag benodig om dieselfde vereiste proses en wetlike vereistes te volg wat van toepassing sou wees as die versoek aan 'n plaaslike verskaffer van 'n soortgelyke diens gerig was
  • Internasionale norme, wat beteken dat ons net data verskaf in reaksie op versoeke wat voldoen aan die Global Network Initiative (Globale Netwerk Inisiatief) se Beginsels vir Vrye Meningsuiting en Privaatheid en sy geassosieerde implementeringriglyne
  • Google se beleide, wat enige toepaslike diensbepalings en privaatheidsbeleide insluit, asook beleide wat verband hou met die beskerming van vrye meningsuiting

Omdat Google Ireland daarvoor verantwoordelik is om die meeste Google-dienste in die Europese Ekonomiese Gebied en Switserland te verskaf, ontvang dit ook versoeke vir gebruikerinligting.

Versoeke vanaf Ierse regeringsagentskappe

Google Ireland neem Ierse wette in ag wanneer dit versoeke vir gebruikerinligting van 'n Ierse agentskap af ontvang. Ierse wette vereis dat Ierse wetstoepassingsowerhede 'n bevel wat deur 'n hof gemagtig is, moet verkry om Google Ireland te dwing om gebruikerinligting te verskaf.

Versoeke vanaf regeringsowerhede buite Ierland

Google Ireland bied dienste aan gebruikers in die Europese Ekonomiese Gebied en Switserland, en ons ontvang soms versoeke vir dataopenbaarmaking vanaf regeringsagentskappe buite Ierland. Ons kan in hierdie geval gebruikerdata verskaf indien die handeling in ooreenstemming is met die volgende:

  • Ierse wette, wat beteken dat toegang en openbaarmaking toegelaat word ingevolge toepaslike Ierse wette, soos die Ierse Wet op Strafregspleging
  • Wette van die Europese Unie (EU) wat in Ierland van toepassing is, wat beteken enige EU-wette wat in Ierland van toepassing is, insluited die Algemene databeskermingsregulasie (ADBR)
  • Wette van die land wat die versoek rig, wat beteken dat ons die gesag benodig om dieselfde vereiste proses en wetlike vereistes te volg wat van toepassing sou wees as die versoek aan 'n plaaslike verskaffer van 'n soortgelyke diens gerig was
  • Internasionale norme, wat beteken dat ons net data verskaf in reaksie op versoeke wat voldoen aan die Global Network Initiative (Globale Netwerk Inisiatief) se Beginsels vir Vrye Meningsuiting en Privaatheid en sy geassosieerde implementeringriglyne
  • Google se beleide, wat enige toepaslike diensbepalings en privaatheidsbeleide insluit, asook beleide wat verband hou met die beskerming van vrye meningsuiting

As ons redelikerwyse glo dat ons kan verhoed dat iemand sterf of ernstige fisieke leed aangedoen word, sal ons moontlik inligting aan 'n regeringsagentskap verskaf – byvoorbeeld, in die geval van bomdreigemente, skoolskietvoorvalle, ontvoerings, selfmoordvoorkoming, en vermiste persone. Ons oorweeg hierdie versoeke steeds in die lig van toepaslike wette en ons beleide.

Google-programme
Hoofkieslys